Pers: Die Boer Teater Word 10!

November 8, 2015

Op 1 Sept 2004 ontmoet Jurgen Human en Margit Meyer-Rodenbeck mekaar op ‘n “blind date” oor middagete, wat toe deurloop na aandete en laat aand was die gesels nog nie op nie en deel van die groot gesels, was Jurgen se lewensdroom om ‘n teater restaurant te open… en so begin ‘n groot avontuur daardie selfde aand, om ‘n wereldklas venue in die Noordelike Voorstede te skep.

 

Sewe maande later, op 20 April 2015, open die Boer restaurant na vele nagte se debat oor interieur (waarin Gerrit Snyman ook ‘n groot aandeel gehad het), spyskaarte, kunstenaars, die naam van die venue ens,ens. Die oggend van 20 April lyk dit nog soos ‘n bouperseel, maar daardie aand open Valiant Swart die Boer restaurant Teater voor ‘n volgepakte gehoor. 

 

Nou hoe kry twee mense dit reg om hierdie teater-tuiste vir ons land se top kunstenaars te skep. Jurgen is ‘n elektriese ingenieur met baie jare ondervinding in die plaaslike en internasionale uitsaaibedryf en Margit het verskeie dramagrade agter haar naam en is ‘n bekende in die Suid-Afrikaanse teaterwêreld. En so durf hulle toe die hoogs riskante vermaaklikheidsbedryf aan, sonder enige kennis van die restaurantbedryf, maar met hope entoesiasme en vasberadenheid. Gelukkig is nie Jurgen of Margit bang vir werk nie “Ons het ‘n plek probeer skep waar ons self graag sou wou kuier. En ons hou van lekker eet, goeie wyn en geselskap saam met  musiek en teater in dieselfde intieme ruimte.”  sê Jurgen.  Margit voeg by: “Mense voel gemaklik in die Boer met  ‘n negosiewinkel  bo jou en kop, en Persiese matte onder jou voete.  En natuurlik het Jurg doodseker gemaak dat die Boer se akoestiek baie goed is en die klank ‘n ervaring is.”

 

Die Boer teater restaurant sou egter nie vir 10 jaar sy deure kon oophou sonder die vindingrykheid van sy personeel, ondersteuning van kunstenaars , maar bowenal, die ongelooflike ondersteuning van ons gereelde kliente, wat oor en oor terugkom vir nog ‘n aand van gesellige vermaak en kuier.

 

In die 10 jaar het Die Boer reeds meer as 3050 vertonings aangebied ... en ons top kliënt was alreeds +/-  175 keer by die Boer!  Om dankie te sê aan al hierdie mense,  gaan ons einde van Nov ‘n reuse makietie hou by die Boer met kunstenaars, gaste, media en leweransiers wat al so lank die pad met ons stap.

 

‘n Groot deel van die Boer se sukses is ons kos onder leiding van chef Jean Louis Geldenhuys wat al vir 9 jaar die kombuis met militêre presiesie beplan en beheer.  Jean Louis en sy span (twee van ons kombuispersoneel, Londwabo en Boniswa, is al vanaf dag 1 deel van die Boer) weet hoe om kwaliteit smaaklike kos bekostigbaar te hou.

 

Oor die afgelope 10 jaar het baie van die kunstenaars soos familie geraak en vir baie van hulle het die Boer ‘n teater-tuiste geword:

 

"As ek aan Die Boer dink:  Klein verhoog. Groot hart."

Hennie van Greunen

 

"Ek kan nie glo Die Boer is al 10 jaar oud nie,dit voel asof die teater nog altyd daar was, soos familie. Met dese wil ek Margit en Jurg gelukwens met die reuse sukses wat hierdie teater/restaurant van meet af aan behaal het. As kunstenaar is dit vir my 'n eer,voorreg en groot plesier om by Die Boer op te tree. Mens voel tuis en veilig daar,wetende dat die teater bestuur word deur twee mense wat teater liefhet en verstaan en deeglik ken.Ek weet dis nie net ek wat so voel nie,honderde kunstenaars sal met my saamstem.

Op die volgende tien jaar - saluut ! Liefde,"

Amanda Strydom

 

"Dis die infamous groen backstage bank.

Dis die donkerbeligte verhoog van swart geverfde plank.

Dis waiters wat hardloop met kos en drank.

Dis die eet, dis die gesels, die voorshow rumoer.

Dis die deurgetrapte matte op die plankvloer.

Dis showtime.

Dit is Die Boer"

Wicus van der Merwe

 

"Dit voel of ek vir my familie en vriende  sing by die Boer. So intiem en die lekkerste gehoor."

Andriëtte Norman

 

"Die Boer is teater soos dit moet wees- magistraal, professioneel, warm, vriendelik, verrassend, top kwaliteit in alle aspekte. Vir kunstenaars en gehore is Die Boer ‘n oase van kreatiwiteit."

Lizz Meiring

 

"Ek speel al vir jare shows by Die Boer. Dit is een van my gunsteling venues. Ek is mal oor alles, die kos, die mense en die klank."

Francois van Coke

 

10 jaar is in ‘n oogknip verby en ons het die mooiste herinneringe aan besonderse vertonings, vriende wat ons gemaak het. Dis ‘n teater ruimte waar die kunstenaars “veilig” voel.  Ons sien uit na die volgende 10 jaar.

 

 

Please reload

© Loots Digital (Pty) Ltd 2019